Stygende brandstofpryse maak brandstoftenkwaens ’n teiken vir kriminele sindikate op Suid-Afrika se paaie, aangesien voertuigdiefstalle en -kapings ’n opwaartse neiging toon.
Dít is deur die voertuigopsporingsmaatskappy Netstar, ’n filiaal van Altron, gerapporteer, terwyl dit ’n nuwe stel tendensedata vrygestel het.
“Ons het ’n toename in aangemelde voorvalle van kapings van ons kliënte se voertuie in die eerste ses maande van vanjaar gesien,” sê Charles Morgan, uitvoerende hoof van Netstar. “Van Januarie tot Junie 2022 het die voorkoms van kapings en diefstal onder ons kliëntebasis met 24% gestyg.”
Morgan sê daar was ook voorvalle met die kaping van brandstoftenkwaens wat aan Netstar-vlootklante behoort.
“Daar is aanduidings dat brandstoftenkwaens ’n teiken word,” sê Morgan. “In ’n onlangse voorval is ’n brandstoftenkwa ná middernag deur ’n groep misdadigers gekaap.
“Danksy ons voertuigopsporingstelsel kon ons die kliënt se voertuig terugkry en die bestuurder, wat ongedeerd was, opspoor,” sê Morgan.
Met kamerategnologie kan die maatskappy op afstand toegang verkry tot intydse beeldmateriaal van voertuigaktiwiteite in hul vloot, met behulp van hulpbronne soos bestuurderkameras, padgerigte kameras en hul selfoonstromingsdiens.
Netstar vind gemiddeld meer as 90% van gesteelde en gekaapte voertuie terug.
“Hoewel Netstar ’n hoë herstelkoers het, sien ons ’n aansienlike toename in kapingsvoorvalle,” sê Morgan. “Ons beveel aan dat operateurs van tenkwavlote ekstra waaksaam moet wees en alle maatreëls tref wat hulle kan om hul bestuurders en hul voertuie te beskerm.”
Ander neigings wat deur Netstar geïdentifiseer is, sluit in ’n styging in voertuigdiefstalle gedurende die oggendure, gevolg deur ’n toename in kapings gedurende die middag en die aand. Gedurende Mei en Junie het daaglikse voertuigkapings ’n hoogtepunt bereik in die tydperk tussen 19:00 en 20:00.
“Ons data dui daarop dat kapings meer algemeen in die aand ure voorkom,” sê Morgan. “Kapings is ook die mees algemene manier waarop voertuie gesteel word. Dit impliseer dat misdadigers dit makliker kan vind om ’n voertuig te steel deur ’n kontakmisdaad soos kaping, as deur diefstal van ’n onbewaakte voertuig. Dit kan wees omdat dit nie nodig is om alarm- en immobiliseerdertegnologie te omseil wanneer die bestuurder agter die stuur is nie.”
Netstar se uiteensetting van diefstal- en kapingsvoorvalle volgens provinsies dui daarop dat Gauteng verreweg die hoofbrandpunt vir voertuigmisdaad is. In Junie vanjaar het 51,2% van die voertuigdiefstalmisdade wat Netstar in die land aangeteken het, in Gauteng plaasgevind. KwaZulu-Natal het die tweede meeste voorvalle aangeteken met 23%, terwyl die Oos-Kaap en die Wes-Kaap albei sowat 6% van die voorvalle aangeteken het.