Die uitspraak in die borgtogaansoek van drie beskuldigdes wat daarvan beskuldig word dat hulle na bewering die besittings van die 21 slagoffers van die Enyobeni-taverne-treurspel gesteel het, sal Maandag 8 Augustus in die Oos-Londen-landdroshof gelewer word.
Die drie beskuldigdes is Aphiwe Rawutini (21), Sinobomi Ntyintyi (21) en Someleze Dyani (22).
Die trio het Maandag met hul tweede hofverskyning beweer dat hulle die besittings van die oorledenes, wat klere, skoene en pruike insluit, ‘van die vloer af opgetel het.’
Die polisie het gesteelde items in die huise van die beskuldigdes gevind, wat positief deur die slagoffers se naasbestaandes geïdentifiseer is.
Die 16-jarige minderjarige (vierde beskuldigde in die saak) mag nie genoem word nie en sy saak word apart hanteer word. Hy is in die aanhouding van sy ouers vrygelaat.
AfriNuus het vroeër berig dat die mans op 25 Julie in verband met die diefstal aangekeer is. Nog niemand is in verband met die dood van die slagoffers aangekeer nie.