Skokkende beeldmateriaal is vanoggend op sosiale media gedeel van plundertogte wat in Thembisa plaasvind, waar items uit die Ekurhuleni-metro se munisipale geboue gesteel word.
Die spoor van verwoesting ná gister se oproer weens hoë kragtariewe en ’n gebrek aan dienslewering is regoor Thembisa sigbaar. Talle munisipale voertuie is afgebrand, terwyl voertuie met klippe bestook is. Paaie is ook versper, terwyl alle roetes na Thembisa gesluit is.
Gister is ’n substasie afgebrand, wat veroorsaak het dat Eskom vanoggend sy dienste uit die area onttrek het. Vier mense is gister in die onluste in Thembisa, Gauteng, dood.
“Ons het dienste in Thembisa onttrek weens die voortdurende betogings. Dienste sal eers hervat word wanneer dit veilig is vir ons werknemers om in die area te werk,” lui ’n verklaring deur Facebook.