Solidariteit gaan Donderdag 4 Augustus tydens ’n mediakonferensie sy lys van vaardige kragkenners bespreek wat hy aan die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en Eskom gaan stuur.
Hierdie geleentheid volg nadat minister Gordhan onlangs vir Solidariteit versoek het om só ’n lys op te stel ten einde die krisis by Eskom aan te pak.
Solidariteit sal Donderdag om 12:00 gedurende ’n regstreekse konferensie die kundigheid van diegene op die lys uiteensit en belangrike elemente van die proses om die lys te finaliseer, sowel as die proses vorentoe, bespreek.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, verduidelik: “Eskom moet so spoedig moontlik gestabiliseer word en hierdie spesialiste het die kennis en vaardighede om dit te bewerkstelling. Dit is uiters belangrik dat alle belanghebbendes hierby inkoop en die omvang van die krisis erken. ’n Funksionerende Eskom is van kardinale belang, beide vir werknemers in die organisasie sowel as werknemers regoor die Suid-Afrikaanse ekonomie.”