Die Intercape-busdiens, Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), taxivereniging Santaco, en die departement van gemeenskapsveiligheid en polisietoesig sal môre die Wes-Kaapse staande komitee oor vervoer inlig oor die voortdurende aanvalle op langafstandbusse.
Intercape het gister in ’n verklaring bevestig dat twee bestuurders Woensdagaand op die N2-hoofweg naby Nyanga geskiet is. Die voortslepende geweld het vrees by busbestuurders en passasiers veroorsaak. Die skietvoorval Woensdag kom dae nadat nog ’n bestuurder by Intercape se Industria-depot doodgeskiet is.
Die DA in die Wes-Kaap het hierdie moedswillige misdadigheid ten sterkste veroordeel.
“Ons verwelkom die ingrypings deur die Provinsiale Regering om Provinsiale Verkeersowerhede opdrag te gee om langafstandbusbedrywighede fyn dop te hou en waaksaam te bly vir voertuie wat onwettig stop en geld van busse langs Wes-Kaapse roetes eis,” sê Ricardo Mackenzie, DA-woordvoerder oor vervoer en openbare werke.
“Die SAPD sal saam met die verkeersbeamptes moet werk sodat hierdie misdadigers aangekeer en tot verantwoording geroep kan word. Dit alleen is egter nie volhoubaar nie. Ons doen ’n beroep op die SAPD en Misdaadintelligensie om die langafstandbusgeweld dringend te hanteer om te verseker dat die skuldiges aan die hof gebring word. Ons doen ook ’n beroep op die regstelsel om diegene wat betrokke is by hierdie kriminele aksies te begin vervolg om te verseker dat geregtigheid geskied,” voeg Mackenzie by.
Die DA glo dat môre se vergadering vrugbare verbintenisse en oplossings vir die voortslepende geweld sal bring.
Jy kan die gesprek Vrydagoggend om 10:00 hier onder volg: