Die SBV-transitomaatskappy bied ’n R1 miljoen beloning aan vir inligting wat kan lei tot die suksesvolle inhegtenisneming en vervolging van verdagtes wat betrokke was by die tragiese dood van ’n SBV-werknemer in ’n transitoroof in Kimberley in die Noord-Kaap.
“Ons is uiters hartseer om die verlies van een van ons werknemers in ’n gevoellose aanval op een van ons voertuie op 5 Augustus 2022 in Kimberley te bevestig,” lui ’n verklaring deur die groep.
Mark Barrett, uitvoerende hoof van SBV-dienste het namens die hele maatskappy sy innige meegevoel met die oorledene se familie en kollegas betuig. “Drie lede van die span is beseer en word in die hospitaal behandel. Ons gedagtes is by ons spanlede en hul families vir die trauma wat hulle opgedoen het weens hierdie aanval,” sê Barrett. “Ons bied ’n beloning van R1 miljoen aan in reaksie op die sinnelose verlies van ons kollega en SBV sal sy pogings verdubbel om te verseker dat al die individue wat by hierdie aanval betrokke is, aan die hof gebring word en die volle gevolge van die wet in die gesig staar.”
SBV-dienste bied dus ’n beloning van R1 miljoen aan vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en vervolging van hierdie misdadigers. Die SBV-voertuig is deur verskeie aanvallers in ’n lokval oorval wat gewere en plofstof gebruik het om die SBV-pantservoertuig aan te val.
“SBV sal geen aanval duld wat ons werknemer se lewens en gesondheid in gevaar stel nie,” voeg Barrett verder by. “Ons boodskap aan hierdie misdadigers is duidelik: SBV sal al die nodige hulpbronne insit en baie nou saam met die owerhede werk om hierdie misdadigers wat by aanvalle teen SBV betrokke is, vas te trek. Ons bevestig dat ons nooit ’n saak sal sluit totdat dit opgelos is nie. Ons sal seker maak dat hierdie misdadigers wat by hierdie sinnelose en gewelddadige aanval betrokke is, aangekeer word en dat geregtigheid geskied.”
SBV moedig lede van die gemeenskap met enige inligting rakende hierdie aanval aan om SBV se blitslyn by 083 408 7029 te kontak. Hierdie blitslyn is 24/7 aktief en alle bellers kan verseker wees dat vertroulikheid gehandhaaf word.
Barrett voeg by: “Ons bedank die paramedici op die toneel en die mediese spesialiste by die hospitaal wat kundige sorg vir ons kollegas verskaf.”