Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het Vrydagaand bevestig dat gesamentlike pogings deur speurders verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Bethelsdorp en die teen-bende-eenheid gelei het tot die inhegtenisneming van ’n 22-jarige man en die herwinning van die vuurwapen wat na bewering gebruik is toe ’n 5-jarige meisie in haar kop geskiet is.
Speurders het die hele dag gewerk om vas te stel wat die omstandighede rondom die noodlottige skietery van ’n 5-jarige Bethelsdorpse meisie was.
Soos die ondersoek voortgeduur het, het dit aan die lig gekom dat drie kinders, twee seuns van 6 jaar oud en ’n 5-jarige meisie, op Donderdag 11 Augustus 2022 tussen 13:00 en 14:00 met ’n vuurwapen in die kamer by ’n huis gespeel het toe ’n skoot afgegaan het.
Speurders het vandag vasgestel dat die seun en die meisie neefs was en nie broers en susters soos aanvanklik deur die SAPD berig is nie. Die ander seun was ‘n vriend.
Die meisie is per ambulans hospitaal toe gehaas, maar het laat gisteraand (11 Augustus 2022) aan haar beserings beswyk.
In dié stadium is dit nog nie duidelik wie van die seuns die meisie per ongeluk geskiet het nie.
Met die polisie se aankoms by die huis op 11 Augustus 2022 is die vuurwapen na bewering verwyder en kon nie gevind word nie.
Nadat verskeie leidrade opgevolg is het lede van die teen-bende-eenheid vanoggend ’n 22-jarige man in Cleary Park vasgetrek. Hy word aangehou op aanklag van regsverydeling.
Lede van die teen-bende-eenheid het ook die vuurwapen en ’n rewolwer, wat na bewering in die skietery gebruik is, teruggekry. Die vuurwapen is in ’n oop ruimte in ’n stormwaterdrein gevind.
Die polisie ondersoek ook ’n saak van strafbare manslag en die oortreding van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.
Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur sal word. Die eienaar van die vuurwapen moet nog bepaal word.
Die ondersoek duur voort.