Die vakbondfederasie Saftu het vandag meer inligting bekendgemaak oor die beplande nasionale stilstand op Woensdag, 24 Augustus 2022. Saftu is die tweede grootste vakbondkonfederasie in die land, met 21 geaffilieerde vakbonde wat 800 000 werkers verteenwoordig.
Die regering se begrotingsbesnoeiings, beurtkrag, toenemende misdaad en geweld in die land, geslagsgebaseerde geweld (GBV), die hoë werkloosheidsyfer en die stygende lewenskoste is van die hoofredes vir die beplande staking. Saftu eis verder dat die maatskaplike toelaag as ’n basiese inkomstetoelaag van R1 500 ingestel word.
Wat eis Saftu?
1. Saftu eis werk vir werklose mense teen ’n ‘leefbare loon.’
2. Saftu eis ’n basiese inkomstetoelaag van R1 500 om die vlakke van armoede onder werklose mense aan te spreek.
3. Saftu eis die verlaging van kos-, brandstof- en elektrisiteitspryse, sowel as rentekoerse.
4. Saftu eis dat Eskom nie geprivatiseer word nie, en dat die kragmaatskappy se uitvoerende hoof, André de Ruyter, die Eskom-direksie en die hele ANC-regering opsy staan.
5. Saftu eis ’n minimum loon van R72 per uur vir werkers.
6. Saftu eis dat die misdaad en geweld in die land beëindig word. Die vakbondfederasie eis dat misdadigers wat verantwoordelik is vir alle geweld, insluitend geweld teen vroue en kinders, in hegtenis geneem word.
7. Saftu eis klimaatsgeregtigheid – meer hernubare energie en meer openbare beleggings in Eskom, asook die skepping van werksgeleenthede wat klimaatsverandering teëwerk.
9. Saftu eis die hernasionalisering van Sasol, Yskor (Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie), SAL (Suid-Afrikaanse Lugdiens), en ander staatsentiteite ‘wat die ANC-regering gedeeltelik of ten volle verkoop het’. Saftu eis ook ’n volledige transformasie by Denel, Prasa (Passasierspooragentskap van Suid-Afrika), PetroSA en Transnet om ‘maatskaplike en arbeidsbehoeftes te weerspieël.’
10 . Saftu eis dat die begrotingsbesnoeiings omgekeer word en dat staatsbesteding in kritieke areas van dienslewering verhoog word.
11. Saftu eis dat meer onderwysers, verpleegsters, polisielede, korrektiewe beamptes, maatskaplike werkers en verkeersbeamptes aangestel kan word en beter betaal word.
12. Saftu eis dat sekere dienste deur die regering nie uitgekontrakteer word nie. Dit sluit sekuriteit, skoonmaakdienste, gemeenskapsgesondheidsorg, vroeë kinderontwikkeling en die uitgebreide program vir openbare werke (EPWP) in.