Brigadier Jay Naicker, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal (KZN), het bevestig dat polisiebeamptes verbonde aan die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad (narkotika-afdeling) ’n klopjag uitgevoer het op ’n vermoedelike dwelmlaboratorium in Ngudwini buite Mandeni.

Die polisiebeamptes het die perseel bestorm en ontdek dat die verdagtes reeds gevlug het terwyl die masjiene nog geloop het. ’n Groot hoeveelheid roumateriaal wat vermoedelik gebruik word in die vervaardiging van dwelms, sowel as tablette wat vermoedelik ‘mandrax’ bevat, is op die toneel gevind. Verpakkingsmateriaal, twee elektriese slypmasjiene, ’n droogoond, ’n elektriese saampersmasjien, ’n vragmotor met ’n geheime kompartement, asook ander toerusting is ontdek. Die dwelms en roumateriaal is na raming miljoene rande werd.
“Ons is baie tevrede met hierdie deurbraak aangesien dit beteken dat ’n groot hoeveelheid van hierdie dwelms uit ons strate verwyder word. Die ondersoek sal aan die Valke oorhandig word en ons hoop dat die oortreders aangekla sal word,” het luitenant-generaal Mkhwanazi gesê.
