Die hooggeregshof in Pretoria het pastoor Lucky Mfanivele Magagula (36) tot twee keer lewenslank gevonnis vir verkragting, die blootstelling van kinders aan pornografie, seksuele aanranding, blootstelling van ’n volwassene se geslagsdele aan kinders en die seksuele rypmaking (grooming) van ses minderjarige kinders van 3, 4, 6, 8 en 9 jaar oud.
Die Regter het beveel dat sy naam in die nasionale register vir seksuele oortreders gevoeg word en dat hy onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit.
Dit volg nadat regter Jay Monyemangeni hom op 5 Augustus 2022 skuldig bevind het aan 3 aanklagte van verkragting, 5 aanklagte van die blootstelling van kinders aan pornografie, 6 aanklagte van seksuele aanranding, 4 aanklagte van die blootstelling van geslagsdele aan kinders en seksuele rypmaking.
Magagula is ’n pastoor van die Itshe Lengumbi-kerk in ’n klein gemeenskap waar al sy slagoffers woon.
Die 3-jarige slagoffer was Magagula se bure se dogter toe hy haar in Februarie 2021 verkrag het. Die slagoffer het na sy huis gegaan om met haar familielid, wat ook familie van hom was, te speel. Ná die voorval het hy erken dat hy die kind tydens ’n familievergadering verkrag het.
Hy het die 8-jarige en die 9-jarige meisies verkrag, en verder seksueel aangerand saam met drie ander tussen 2020 en 2021 toe hulle na sy huis sou gaan vir kooroefening en bybelstudie.
Daarna het ’n broer van twee van sy slagoffers sy susters sien speel en gesien hoe hulle hul klere uittrek. Toe die broer sy ouma vertel het wat hy sy susters sien doen het, het die ouma die 4-jarige gevra, wie vir haar vertel het dat dit die pastoor was wat dit aan hulle gedoen het.
Die ouma het die ouers van die kinders vertel, wat Magagula toe aangekeer en na die polisiestasie geneem het. Hy is toe op 11 Februarie 2021 in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding nadat die staat borgtog suksesvol teengestaan het.
Hy het in die hof die skuld op die aanklagte teen hom ontken.
Met vonnisoplegging het adv. Juliet Makgwatha aan die hof gesê dat Magagula ’n pastoor in die gemeenskap was wat die kinders vertrou het. Hy was in ’n vertrouensposisie, terwyl hy die kerk oopgemaak het om die gemeenskap te help. In plaas daarvan het hy daardie vertroue misbruik en kinders op die gruwelikste manier moontlik misbruik.
Sy het dus die hof gevra om ’n vonnis op te lê wat ’n sterk boodskap sal uitstuur.
Regter Monyemangeni het in die uitspraak van sy vonnis met die staat saamgestem en gesê: “Die kinders is van hul kinderjare beroof. Magagula het hulle blootgestel aan iets wat hulle vir die res van hul lewe sal raak”.
Die direkteur van openbare vervolging, adv. Sibongile Mzinyathi, het die goeie werk wat deur die aanklaer, die hofvoorbereidingsbeampte en die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS) gedoen is, toegejuig.