Vier veroordeelde gevangenes word aangekla nadat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, en slagoffers uit meer as R1,3 miljoen vanuit hul tronkselle geswendel het.
Die Valke se ernstige korrupsie-ondersoekspan in Gauteng, sowel as die Gautengse departement van korrektiewe dienste (DKD), het Donderdag, 11 Augustus 2022, gelyktydig ’n klopjag by die Odi- en Baviaaspoort-tronke in Mabopane en Pretoria uitgevoer.
Die klopjagte was daarop gemik om ’n kubermisdaadondersoek en beslaglegging uit te voer, asook die uitvoering van ’n lasbrief vir die arrestasies (J50) van vier veroordeelde gevangenes op ’n verskeidenheid van aanklagte wat afpersing, nabootsing van ’n polisiebeampte, geldwassery, uitbuitery en vervalsing insluit.
Dit volg op ’n in-diepte ondersoek na ‘korrupte polisiebeamptes’ wat na bewering geld afpers van verskeie manlike slagoffers wat dienste van ’n geheime aanlyn “escort agency” gesoek het. Die slagoffers sou later deur iemand wat voorgee om ’n polisiebeampte te wees ingelig word dat ’n saak van verkragting en bedrog teen hulle geopen is omdat hulle glo vals geld gebruik het om die sekswerkers te betaal. Hulle sou ook ’n vals lasbrief vir ’n arrestasie via WhatsApp voorlê en betaling eis om te verseker dat die polisie saam met die aanklaer die sake laat ‘verdwyn.’
Die Valke-ondersoek het aan die lig gebring dat ’n sindikaat van gevangenes met selfone na bewering vals profiele van egte polisiebeamptes geskep het deur die name en foto’s van hul sosiale media-profiele te gebruik. Die polisiebeamptes was egter nie bewus hiervan nie. Hulle het verder ’n klankopname van ’n aanlyn “escort agency” verkry wat die slagoffers gekontak het, wat hulle toe betaal het uit vrees vir vervolging. Oor die tydperk van Mei tot Augustus 2022 is die totale bedrae van R760 000 en R560 000 in twee afsonderlike rekeninge inbetaal wat aan die slagoffers verskaf is.
Tydens die klopjag is verskeie slimfone by elk van die vier verdagtes gevind, waarop daar deur die Valke vir verdere ondersoek beslag gelê is. Altesaam 36 selfone, 19 selfoonlaaiers en ander items is ook van ander gevangenes in dieselfde tronkselle gevind.
Die vier gevangenes tussen die ouderdomme van 26 en 32 sal op Maandag 15 Augustus 2022 in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Meer arrestasies is op hande.

Enigiemand wat vir hierdie soort afpersing geval het, word aangemoedig om na vore te kom en kaptein Jacques Loock by 082 778 5626 te kontak.
Die Valke se provinsiale hoof in Gauteng, generaal-majoor Ebrahim Kadwa, het die span geloof vir die noukeurige ondersoek en hul samewerkingspogings wat die suksesvolle arrestasie en beslaglegging van items verseker het. Hy het verder gewaarsku dat diegene wat dienste van sekswerkers gebruik en die polisie gewillig betaal om inhegtenisneming te vermy, aanklagte van korrupsie in die gesig staar as hulle nie met die polisie-ondersoek saamwerk nie.