SABC News berig dat die langverwagte finale mediese verslag oor wat gelei het tot die dood van die 21 jongmense by die Enyobeni-taverne teen Woensdag 31 Augustus vrygestel sal word.
Volgens die nuusdiens is dié aankondiging deur die Oos-Kaapse departement van gesondheid gemaak tydens ’n geslote vergadering met die families van die oorledenes by die Cambridge-polisiestasie.
Die familielede van die oorledenes het vandeesweek hul woede uitgespreek omdat die verslag so lank neem om gefinaliseer te word.
Die finale verslag, wat bestaan uit ’n toksikologieverslag, chemiese verslag en lykskouingsverslag word nou deur forensiese ondersoekers saamgestel, voordat dit bekendgestel sal word.
Die familie sal eers in kennis gestel word, voordat die verslag met die media gedeel sal word.
Die vlakke van die metanol in die tieners se bloedstroom moet egter nog bepaal word om vas te stel of dit dodelik is en die oorsaak van die tieners se dood is.
Koolstofmonoksied-vergiftiging, alkoholvergiftiging en ’n stormloop is reeds met ’n vorige nuuskonferensie as moontlike oorsake uitgeskakel.
AfriNuus het vroeër berig dat die kinders waarskynlik weens metanol-vergiftiging dood is, nadat hulle vermoedelik ’n onwettige brousel gedrink het wat die giftige alkohol wat in nywerhede gebruik word, bevat. Dit moet egter nog vasgestel en bevestig word.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ondersoek ook die dood van die tieners, terwyl die eienaars van die taverne se dranklisensie opgeskort is.
Nog niemand is aangekla vir die dood van die tieners of in hegtenis geneem daarvoor nie, behalwe vir diegene wat vir die diefstal van hul besittings in hegtenis geneem is.