Ghaleb Cachalia, die DA se skaduminister oor openbare ondernemings, sê in ’n verklaring dat terwyl Transnet dalk daarin geslaag het om ‘deur ‘n rookskerm’ ’n wins te maak, sy bedryfsvermoë steeds merkbaar oor die hele linie agteruit ploeter.
Onafhanklike skattings van die politieke party dui daarop dat die belangrike Gautengse brandstofpyplyn nege keer in die afgelope 19 dae deurbreek is.
Met die opening van die parlement vir ’n nuwe termyn, sal die DA ’n beroep doen dat die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings eis dat Transnet-bestuurshoofde rekenskap gee oor die toenemende breuke van die Gautengse brandstofpyplyn.
Die DA versoek dat Transnet besonderhede verskaf van stappe wat hulle sal neem om te verseker dat hierdie kwessie dringend aangespreek word.
“Ten spyte van die besteding van R8 miljard aan pyplynsekuriteit in die afgelope 3 jaar, het Transnet heeltemal misluk om die Gautengse brandstofpyplyn en gemeenskappe wat langs hom woon te beskerm,” meen Cachalia. “Benewens die omgewingskade wat hierdie voortdurende oliestortings op plaaslike gebiede het, hou die toenemende voorvalle van breuke in die pypleiding nou ’n ernstige risiko vir energiesekuriteit in die Gauteng-area in.”
Die jongste voorval was op die 7de Augustus waar daar vermoedelik ’n beduidende breuk op die Trasnet-pyplyn tussen Jamesonpark en Alrode plaasgevind het.
Ooggetuies beweer dat minstens een hektaar grond geraak is deur ’n dieselstorting wat gevaarlik naby aan woonhuise gekom het. Aanduidings is dat hierdie brandstofstorting dae lank aan die gang was sonder dat Transnet se tegniese spanne ingegryp het.
Wanneer Transnet-bestuurders voor die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings in die parlement verskyn, sal die DA vra dat hulle verantwoording doen oor:
???? Die volle omvang van die voorvalle met betrekking tot breuke in die brandstofpyplyn oor al sy groot brandstofpunte regoor die land;
???? Die vlak van samewerking met wetstoepassingsagentskappe, soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), in die poging om hierdie breuke te stop; en
???? Of Transnet en die SAPD enige sukses behaal het met die aankeer van individue wat daarvan verdink word dat hulle Transnet-pyplyne beskadig het.
“In plaas daarvan om tyd te mors in kantore om boeke te kook en batewaardasies op te blaas, moet Transnet sy pogings rig waar dit die meeste saak maak – om sy lewensbelangrike bates te beskerm,” sluit Cachalia af.