Lt.kol Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder in Gauteng, het in ’n verklaring bevestig dat vier vermeende transitorowers noodlottig gewond is tydens ’n skietgeveg met die polisie ná ’n kontanttransito-rooftog Vrydagmiddag langs die Nasrec-pad in Soweto, Johannesburg.
Berigte dui daarop dat die bestuurder van die geldwa saam met sy veiligheidswagte langs Nasrecweg gery het toe die verdagtes op die voertuig losgebrand het. Die bestuurder het glo daarin geslaag om verder te ry totdat die geldwa op Juskeiweg tot stilstand gekom het.
Verdagtes het na bewering die veiligheidswagte van hul selfone en een vuurwapen beroof, voordat hulle met ’n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug het.
Lede verbonde aan die Johannesburgse blitspatrollie (Flying Squad) het ’n klagte ontvang oor ’n transito-rooftog wat onderweg is en het dadelik gereageer.
Die beamptes het ’n wit BMW met vier insittendes opgemerk, asook ’n grys Nissan Navarra met vier insittendes en ’n wit Toyota Fortuner met drie insittendes. Die verdagtes het glo op die polisie geskiet toe ’n skietgeveg gevolg het. Vier verdagtes is geskiet en op die toneel dood verklaar. Een verdagte is aangekeer.
Een polisiebeampte het skietbeserings opgedoen en is vir mediese behandeling hospitaal toe geneem.
Enigiemand met inligting oor waar die oorblywende verdagtes is, word versoek om die misdaadstopnommer by 08600 10111 te skakel.