Brigadier Novela Potelwa, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n 28-jarige verdagte Saterdag (13 Augustus) in die vroeë oggendure in hegtenis geneem het in verband met die moord en poging tot moord, met sake wat geopen is ná aanvalle op Intercape-busse in Kaapstad in Maart en April 2022.
In April 2022 is daar op ’n Intercape-bus, wat deur die 35-jarige Bangikhaya Machana bestuur is, geskiet wat daartoe gelei het dat hy ernstige beserings opgedoen het. Hy is drie dae ná die voorval in die hospitaal oorlede. Nog ’n aanval het in Maart plaasgevind waar verskeie skote op ’n ander Intercape-bus afgevuur is.
Die verdagte is tydens ’n klopjag in Klapmuts in die Kaapse Wynlande in hegtenis geneem.
Hy staan tereg op aanklagte van moord en poging tot moord wat met die twee voorvalle verband hou en sal op Maandag, 15 Augustus 2022, in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.
“Die vervoergeweldsmisdaadondersoekspan is tans ook hard besig om ander sake te ondersoek wat verband hou met die aanvalle op Intercape-busse,” sê brig. Novela Potelwa. “Die arrestasie van die verdagte sal baie help in pogings om die aanvalle op die langafstandbusdiens hok te slaan.”
Die polisie in die Wes-Kaapse het sedertdien saam met ander wetstoepassingsagentskappe ontplooiings langs geïdentifiseerde roetes en brandpunte verskerp. Intussen duur gesprekke met betrokke partye voort.