Ross Campbell, ER24-woordvoerder, het bevestig dat ’n vrou gisteraand dood is, nadat sy in ’n botsing met ’n vragmotor betrokke was en haar voertuig aan die brand geslaan het. Sy was na bewering in die voertuig vasgekeer toe die brand ontstaan het.
Die ongeluk het by die kruising van die R547 en R580, bekend as 50/50-Crossing, suid van Kriel in Mpumalanga, plaasgevind.
“Die ligte motorvoertuig waarmee die vrou gery het, het met ’n vragmotor gebots en toe aan die brand geslaan,” sê Campbell.
ER24-paramedici was om 19:46 saam met die Secunda-brandweer op die toneel. Die ligte motorvoertuig is in die pad aan die brand gevind en is deur die brandweer geblus.
“Ongelukkig het die vrou, wat in die brandende motor vasgekeer was, reeds aan haar beserings beswyk,” voeg Campbell by. “Sy is met die aankoms deur die ER24-nooddienste dood verklaar.”
Die vragmotorbestuurder het geen beserings opgedoen nie.
Die verkeersdepartement sowel as die Suid-Afrikaanse Polisiedienste (SAPD) was op die toneel vir verdere ondersoeke.
Die vrou se ouderdom is onbekend.
