In ’n stemnota het AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, gesê dat ’n 13-jarige meisie van Delft in Kaapstad Vrydag geskiet is. Daar word beweer dat die slagoffer in die kruisvuur van bendes gewond is.
Volgens EWN is dit die tweede voorval vandeesweek waarin ’n tiener in die area gewond is.
“Die polisie in Delft het Vrydag (12 Augustus) om 13:20 ’n klag ontvang,” sê Swartbooi. “Met hul aankoms op die toneel in Delft-hoofweg, naby ’n winkelkompleks, het hulle ’n beseerde slagoffer gevind wat ’n skietwond aan haar liggaam opgedoen het.”
Die 13-jarige slagoffer is na ’n nabygeleë hospitaal vir mediese behandeling vervoer.
Die verdagtes het van die toneel gevlug en moet nog in hegtenis geneem word. Die polisie in Delft ondersoek ’n saak van poging tot moord.
Enigiemand met inligting word versoek om die Stopmisdaadnommer by 0860010111 te kontak.