Peter Marais, die VF Plus se Wes-Kaapse premierskandidaat, dring daarop aan dat die Wes-Kaapse regering versoek word om voorkomend op te tree deur ʼn spesialis-misdaadbestrydingsspan op die been te bring.
“Dit is bekend dat misdaad regoor Suid-Afrika buite beheer geraak het,” sê Marais.
Die doel hiermee is om ʼn risikobestuur-strategie te ontwerp om veral hospitale, klinieke, skole en plase te beskerm.
“Suid-Afrika se strafregstelsel het, soos die polisie, onder ʼn onbevoegde ANC-regering agteruit gegaan,” meen Marais. “Misdadigers vrees nie meer die polisie en die howe nie.”
Die land het volgens Marais die speelplek van verkragters, moordenaars, rowers, onwettige immigrante en met zama-zama’s se onwettige mynbedrywighede geword.
“Selfs gewone mense wend hulle tot misdaad bloot om te oorleef weens die hoë werkloosheidsvlakke in die land.
“Suid-Afrikaners sien daagliks mediaberigte oor geweld by skole, skietvoorvalle by informele nedersettings, die verwaarlosing van pasiënte by aftreeoorde en hospitale, plaasaanvalle, bende-misdaad wat onskuldige lewens eis asook die afbrand en vernietiging van openbare vervoerstelsels en privaat-eiendomme.”
Misdaad het volgens Marais inderdaad Suid-Afrika se grootste vyand geword met die hoë voorkoms van moord en geweld, wat ʼn aanduiding van ʼn regering is wat die stryd teen alle misdaad, maar veral ernstige misdaad, verloor het.
Die VF Plus het daarom ʼn beroep op die Wes-Kaapse regering gedoen om ʼn spesiale teen-misdaadeenheid te skep bestaande uit bekwame en kundige polisielede van alle bevolkingsgroepe om misdaad daadwerklik die stryd aan te sê.
“Die tyd het aangebreek om pro-aktief te raak met ʼn gesamentlike poging om gewone landsburgers teen misdadigers te beskerm.”
Die Wes-Kaap moet volgens Marais self optree ‘waar die ANC misluk.’