Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê in ’n verklaring dat die liggaam van ’n 16-jarige tienerseun Vrydag gevind is, nadat hy Donderdag in die branders van Jabula-strand in St Lucia, in die noorde van KwaZulu-Natal, verdwyn het.
“Hy is glo in ’n sterk seestroom vasgevang, voordat hy onder water verdwyn het,” sê Lambinon.
Hy was volgens die NSRI op ’n skooluitstappie.
Onderwysers en versorgers het bekommerd geraak en ’n reddingspoging is deur NSRI saam met Isimangaliso Park-veldwagters en die polisie se soek-en-reddingseenheid van stapel gestuur.
Ten spyte van die uitgebreide soektog, is geen teken van die tiener gevind nie. Tydens voortgesette soekpogings Vrydag het veldwagters van die Isimangaliso-vleilandpark die liggaam van die tiener in die branderslyn, by First Rocks, opgespoor.
’n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen.