Donderdag 18 Augustus om 11:21 het Netcare 911 gereageer op ’n vermoedelike verdrinking by ’n oop veld in Bryanston, Johannesburg.
Berigte dui daarop dat twee manlike werkers in ’n diep put langs ’n rivier geval het. Met hul aankoms is gevind dat die mans besig was om ’n groot onderwaterklep te koppel, toe hulle in die moeilikheid beland en verdrink het.
“Die toesighouer op die toneel wat die gebeurtenis aanskou het, het in die water gespring om die werkers te help red en self in die moeilikheid beland,” lui ’n verklaring deur Netcare 911.
Die toesighouer het egter net daarin geslaag om homself van verdrinking te red.
Op die toneel was die Johannesburg se brand- en reddingsdienste, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Watervleuel, soek-en-reddingseenhede en die K9-eenheid.
Nooddienste het pompe ingestel om die watervlak te help verlaag.
Die soektog na die twee mans, albei in hul veertigs, is deur duikers uitgevoer, wat ’n ruk later daarin geslaag het om die lyke op ’n diepte van ongeveer sewe tot tien meter op te spoor.
Die twee mans is na die wal gebring, maar ongelukkig dood verklaar.
Omstandighede wat tot die voorval gelei het, sal deur die betrokke owerhede ondersoek word.