Mavhungu Lerule-Ramakhanya, Limpopo se LUR vir Onderwys, het haar innige meegevoel gestuur aan die families van drie leerders wat vanoggend in ‘n busongeluk op die N1 naby Witpoort buite Nzhelele in Vhembe dood is.
Die leerders van Mutumba Primêre Skool in Mudimeli Village was op ‘n skooluitstappie toe die ongeluk gebeur het.
Drie van die skool se leerders is ongelukkig dood toe die bus waarin hulle gery het van agter met ‘n ander bus gebots het.
Twintig leerders is met ligte beserings na die plaaslike hospitaal gehaas.
LUR Mavhungu Lerule-Ramakhanya het ‘n spoedige herstel toegewens aan al die leerders wat tans behandeling by die hospitaal ontvang.
“Ons het wakker geword met die hartseer nuus van ‘n busongeluk wat die lewens van drie leerders in Vhembe op die N1 buite Louistrichardt geëis het. Ek deel die pyn waardeur ouers van die oorlede leerders tans gaan. Ek dink nie daar is enige pyn wat die verlies van ‘n kind oortref nie. Ons sal met al die belanghebbendes saamwerk om te verseker dat hulle al die nodige bystand kry, insluitend berading vir die onderwysers en leerders by die skool,” sê LUR Lerule-Ramakhanya.