Drank bly een van die land se grootste bydraers van misdaad, sê Bheki Cele, minister van polisie.
Die Minister het die inligting bekend gemaak terwyl hy polisiestasiebesoeke regoor die land gedoen het. Die besoeke, het hy gesê, bly ’n integrale deel van die ministerie om dienslewering op stasievlak te verbeter.
Die Minister het Vrydag die eerste kwartaal se jongste misdaadstatistieke bekend gemaak.
Hy het verslaggewers toegespreek en gesê: “Met elke polisiestasie wat deur hierdie Ministerie en SAPD-bestuur besoek word, is die beskikbaarheid van drank in baie gemeenskappe altyd ’n algemene verskynsel. Die feit is, hoe meer drankafsetpunte daar in ’n gemeenskap is, hoe meer gevalle van kontakmisdade sal daar wees.”
Die Ministerie het Donderdag inwoners van Khayelitsha saam met die rolspelers in die drankbedryf betrek om bewusmaking te kweek en terselfdertyd drank as misdaadbydraer aan te spreek.
“Ons kan nie as ’n nasie aanvaar dat 227 mense tussen April en Junie 2022 in vermaaklikheidsplekke soos tavernes, sjebiens en kroeë vermoor is nie. In 749 moordsake was drank betrokke.
“Die realiteit is dat drank gedurende hierdie verslagtydperk betrokke was by meer as 4 000 gevalle van aanranding.
In 1 212 verkragtingsake was alkohol betrokke tydens die pleging van die misdaad.
Ander feite wat uitgelig is:
- Gedurende April en Junie (3 maande) het Mpumalanga ’n afname van 2,5% in moordsake aangeteken. Die provinsie het ’n afname van 9,7% in seksuele misdrywe opgemerk.
Trio-misdade het dubbelsyferafnames aangeteken.
Die minister het gesê motorkapingsyfers in Mpumalanga het oor dié tydperk met 23,4% afgeneem.
Volgens statistieke is tussen April en Junie vanjaar 6 424 mense deur ander mense in Suid-Afrika vermoor.
Hy het gesê: “Dit is ’n toename van 664 meer mense wat vermoor is, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar, toe die land onder ’n Covid-19-inperking geplaas is.”
Onrusbarend genoeg is 18 polisiebeamptes in hierdie tydperk vermoor. Dit was 13 minder polisiebeamptes wat gedurende hierdie verslagtydperk vermoor is.
Van die 6 424 mense wat in hierdie tydperk dood is, is 2 766 mense doodgeskiet. Hieruit is 912 in KwaZulu-Natal (KZN) doodgeskiet.
Gauteng het gevolg, met 697 sterftes wat aan vuurwapens toegeskryf word. Die Wes-Kaap was volgende, met 498 mense wat weens skietwonde gesterf het.
Oor die drie maande het hy gesê die SAPD het 284 dossiere van veelvuldige moorde, met 664 slagoffers, ondersoek.