Die bestuurder van Enyobeni-taverne, waar 21 jeugdiges in die vroeë oggendure van 26 Junie 2022 gesterf het, het vandag vlugtig in die Oos-Londen-landdroshof verskyn. Siyakwamkela Ndevu (52) staan tereg op aanklagte van die verkoop of verskaffing van drank aan persone jonger as 18 jaar, en dat hy met werknemers en agente saamgesweer en toegelaat het om drank te verkoop of te verskaf aan persone onder die wettige ouderdomsperk.
Die staat voer aan dat die beskuldigde op die laat ure van 25 Junie 2022, tot die vroeë oggendure van 26 Junie 2022, by die Enyobeni-taverne in Scenery Park in Oos-Londen was. Die beskuldigde, die geregistreerde bestuurder van die Enyobeni-taverne, het saamgestem en ook dat hy ene Xoliswa Duma en Sivuyile Ngamlana toegelaat het om onregmatig drank te verskaf of te verkoop aan minderjarige oorlede persone.
Ndevu het die dagvaarding in Julie 2022 deur die polisie beteken om vandag in die hof te verskyn en die twee werknemers is ’n opsie gegee om ’n boete te betaal.
Dit volg nadat die Oos-Kaapse Drankraad Ndevu se dranklisensie opgeskort het. Die Drankraad het die klag aanhangig gemaak.
Die saak is nou tot 2 September 2022 vir ’n voorverhoorkonferensie uitgestel.
Neem kennis: Daar is nog niemand in hegtenis in verband met die dood van die 21 jongmense nie. ’n Finale verslag rakende die oorsaak van die jongmense se dood sal teen 31 Augustus beskikbaar gestel word.