Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier in Mpumalanga, het in ’n verklaring gesê dat sewe-en-dertig gestremde inwoners van die Sunfield Home Fortuna-tehuis vir fisiek- en/of verstandelik gestremde persone in die Dipaleseng-munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) moontlik einde September uit die tehuis gesit sal word.
“Dié omstrede besluit deur Mpumalanga se provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling, kom ná vele vergaderings en versoeke van die direkteure van Sunfield Home Fortuna om sy maandelikse staatstoelae te verhoog,” sê Weber.
Die tehuis het tans 70 inwoners, waarvan 37 ’n staatsubsidie van R2 200 per maand ontvang, alhoewel die koste verbonde aan die ondersteuning van so ’n inwoner tussen R5 000 en R7 000 per maand beloop.
Hierdie bedrag is die afgelope 14 jaar nooit verhoog nie. Nadat Sunfield onlangs vir ’n verhoging gevra het, het die departement geantwoord dat dié 37 inwoners eerder na ander instansies oorgeplaas moet word.
“Baie van hierdie inwoners het geen familie nie,” sê Weber. “Sunfield Home Fortuna, sy inwoners en personeel is die enigste familie wat hulle ken. Die meeste van hierdie inwoners woon al meer as 20 jaar hier en het geen ander heenkome nie.”
Die departement het glo ook besluit om nie die huidige kontrak met die tehuis te hernu nie. Die kontrak verstryk aan die einde van September.
“Dit is ’n skande dat die departement weier om hierdie skamele bedrag te verhoog, veral in ag genome dat die departement sedert 2015 aan hierdie programme onderbestee,” sê Weber.
Die VF Plus het reeds ’n mosie by die provinsiale wetgewer ingedien om die onderbesteding aan te spreek.
“Die VF Plus het intussen ’n dringende vergadering aangevra met die LUR van die departement, Lindiwe Ntshalintshali, om die aangeleentheid te bespreek,” voeg Weber by.
Die VF Plus sê dit is bekommerd oor die veiligheid, gesondheid en waardigheid van die gestremde mense wat moontlik geskuif kan word.