Brigadier Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig dat twee vermeende rowers in Siloam buite Thohoyandou op Woensdag 17 Augustus 2022 vermoor is.
Die twee mans is met klippe doodgegooi en hul liggame deur gemeenskapslede verbrand.
Berigte dui daarop dat drie verdagtes na bewering ‘n 23-jarige vrou van haar selfoon en ander besittings beroof het. Hulle het toe gepoog om haar ten aanskoue van die omstanders te ontvoer, maar het haar gelos en weggejaag nadat sy om hulp geskree het.
Gemeenskapslede het die mans agternagesit en ingehaal nadat hulle ‘n ongeluk gemaak het. Twee is doodgemaak en die derde een is deur die polisie gered en in hegtenis geneem. Hul motorvoertuig is ook aan die brand gesteek.
Gemeenskapslede het voortgegaan om die polisiestasie te omsingel en sy vrylating geëis, maar die polisie se eenheid vir openbare orde is ingeroep om die situasie te kalmeer.
“Die neiging van sommige gemeenskapslede om die reg in eie hande te neem, is onaanvaarbaar. Diegene wat verantwoordelik is, sal vasgetrek en voor die hof gebring word,” sê Mojapelo.
Sake van roof, poging tot ontvoering, twee aanklagte van moord en opsetlike saakbeskadiging is vir verdere ondersoek geopen. Die verdagte van roof en poging tot ontvoering sal binnekort voor die Siloam-landdroshof verskyn.
Enigiemand met inligting oor die verdagtes wat na bewering die reg in eie hande geneem het, word versoek om die stasiebevelvoerder luitenant-kolonel Adziambei Nemavunde by 082 461 7554 of die Stopmisdaadnommer by 0860010111 te kontak.