Foto’s van ’n advertensiebord in Braamfontein, Johannesburg, ná die onthulling van die DA se #CeleMustGo-veldtog Woensdag is wyd op sosiale media gedeel.
Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, eis die afdanking van Bheki Cele, minister van polisie, in die nasleep van sy omstrede uitlatings in sy TV-onderhoud en die kommerwekkende misdaadstatistieke.

In ’n toespraak het Whitfield gesê: “Minister Cele, niemand is gelukkig om verkrag te word nie.
“Elke keer as ’n vrou, ’n kind of ’n man in ons land verkrag word, verloor ons ’n deel van ons siel as ’n nasie. Dit ruk aan ons hartsnare, skeur weg aan ons delikate sosiale struktuur en ontbloot die mislukkings van ons staat en ons samelewing op die mees grafiese en verwoestende manier.
“Nie ’n enkele Suid-Afrikaner van die 153 wat elke dag verkrag word is gelukkig nie en nie een van diegene wat verkragting ontsnap is gelukkig om selfs in ’n situasie te wees waar hulle verkrag kon word nie.
“Die woorde gelukkig en verkrag moet nooit OOIT in dieselfde sin bestaan nie.”
Volgens die party verdien vroue en kinders ’n lewe vry van vrees en om veilig te leef in die wete dat daar ’n strafregstelsel is wat skuldigbevindings sal verseker vir hierdie gewelddadige misdadigers wat onskuldige Suid-Afrikaners as gevangenes in hul eie huise en woonbuurte gyselaar hou.
“Die ondenkbare trauma wat hierdie agt vroue wat in Krugersdorp bendeverkrag is gedwing is om te verduur, behoort ons almal slapelose nagte te gee,” meen Whitfield. “Die 153 mense wat elke dag verkrag word en die talle ander wat verkrag word, maar nooit ’n saak oopmaak nie omdat hulle opgegee het met die polisie, behoort in ons drome te spook.”
Die realiteit is volgens die party dat hoewel die oorsake van misdaad in Suid-Afrika baie is, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ‘gebrekkig bevind is.’
“Die SAPD het nie die verwoesting van staatskaping vrygespring nie en stort in duie onder die gewig van sy gesentraliseerde burokrasie van hoogs betaalde senior bestuurders,” meen die party. “Dit het kontak verloor met die doel van polisiëring en het sy missie om te dien en te beskerm, uit die oog verloor.”
Terwyl daar duisende uitstekende polisiebeamptes in die geledere is, verdien hulle volgens die party beter as ’n minister wat hulle daagliks in die verleentheid stel met sy roekelose opmerkings.
“Hulle verdien beter as ’n top-bestuursburokrasie wat hul stukkende SAPD-voertuie vir tot 200 dae in die werkswinkels weens rompslomp hou. Hulle verdien beter opleiding, meer hulpbronne en meer mag om besluite op plaaslike vlak te neem, sodat hulle betyds op uitdagings kan reageer.
“Dit is tyd dat die Minister erken dat hy die moontlikheid van ’n meer gedesentraliseerde polisiediens moet ondersoek wat polisiëring na die mense bring!”
Die DA sê dit veg om polisiëring na die mense te bring aangesien die huidige stelsel faal.
“Ons veg elke dag om die ongeregtighede wat deur ’n mislukte staat teen sy burgers gepleeg word bloot te lê en ons veg onvermoeid vir ’n beter en veiliger toekoms onder ’n bekwame staat.”
In 2019 het die DA die kritieke tekort aan verkragtingsstelle (rape kits) by polisiekantore regoor die land blootgelê, sowel as die verskriklike toestand van die DNS-agterstand.