Solly Msimanga, voormalige burgemeester van die Tshwane-metro en Gautengse leier van die DA, sê dat die Demokratiese Alliansie (DA) bankvas agter Tshwane se burgemeester, Randall Williams, staan.
“Die DA verwerp, met die minagting wat dit verdien, die bewerings van korrupte aktiwiteite teen burgemeester Randall Williams en ondersteun sy verbintenis om die afhanklikheid van Eskom as elektrisiteitsverskaffer te verminder en om gemeenskappe teen beurtkrag te beskerm.”
Die pogings van ActionSA, die EFF en die ANC om die raadsvergadering te destabiliseer en chaos te skep, was volgens die DA “niks meer as ’n gekoördineerde foefie om ’n paar klein politieke punte te probeer aanteken nie.”
“Ons land se energiekrisis is die gevolg van staatskaping en ineenstorting en as ons nie dapper stappe neem om die energiekrisis te versag nie, sal die DA en koalisieregerings misluk in ons verbintenis tot kiesers,” meen Msimanga. “Daarom staan ons agter burgemeester Williams en sy pogings om die Tshwane-metro in ’n toekoms met ’n stabiele en betroubare elektrisiteitstoevoer te neem.”
Dit volg na ’n inligtingsessie waarin Williams die feite verskaf het rakende ’n openbare deelnameverslag oor ’n voorstel oor die verhuring van grond waarop die stad se kragstasies geleë is.
“Hierdie inisiatief wat die Tshwane-metro sou gehelp het om beurtkrag vry te spring, is vroeër die week irrasioneel teengestaan en heeltemal wanvoorgestel deur verskeie politieke partye in die raad.”
Volgens die party bestaan koalisie-liggame om fundamentele kwessies op te los en nie om die rol van verkose plaaslike leiers in die neem van plaaslike besluite op te neem nie. “Koalisieregerings kan nie by die party se hoofkwartier bestuur word nie,” voeg Msimanga by.
Volgens die party is dit betekenisvol dat elkeen van sy koalisievennote in Tshwane, behalwe ActionSA, tevrede was met hierdie verslag wat voortgaan, en dit sou ondersteun het.
“Nadat hulle nie daarin kon slaag om hul koalisievennote te oortuig nie, het ActionSA toe met die EFF saamgespan om nie net teen die verslag te stem nie, maar om ’n veldtog te begin om die burgemeester van die koalisieregering te verwyder.”
Volgens die party het die ANC ook op die wa gespring.
“Ten spyte van dit alles bly die DA verbind tot die sukses van koalisies,” meen Msimanga. “Koalisies is hoe Suid-Afrika in die nabye toekoms regeer gaan word. Die DA is ook daartoe verbind om koalisies te bou wat in staat is om die probleme op te los wat gewone mense elke dag ervaar.”
In ’n verklaring het ActionSA gesê: “Die verslag is ’n versoek dat openbare konsultasie gedoen moet word oor ’n ongevraagde bod ter waarde van R26 miljard van ’n energiediensverskaffer om ’n konsessie te verkry om beide die Pretoria-Wes- en Rooiwal-kragstasie op te knap, te finansier, te bedryf en in stand te hou.
“Ons vernaamste bekommernis is dat hierdie voorstel onwettig is en die soort slegte regering verteenwoordig wat veelpartykoalisies probeer verplaas het toe hulle hul amp aanvaar het.”