Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Saterdagaand in ’n verklaring bevestig dat gesondheidsowerhede in die Demokratiese Republiek van die Kongo ’n moontlike geval van die Ebola-virussiekte ondersoek. Die land se Nasionale Instituut vir Biomediese Navorsing (INRB) is besig om bloedmonsters te toets om te bepaal of die pasiënt Ebola opgedoen het.
Die geval word vermoed onder ’n 46-jarige vrou wat op 15 Augustus 2022 in Beni, ’n dorp in Noord-Kivu, gesterf het. Die vrou het aanvanklik mediese sorg by die Beni-hospitaal ontvang vir ander kwale, maar het daarna simptome getoon wat ooreenstem met die Ebola-virussiekte.
“Terwyl die ontleding aan die gang is, ondersteun die WGO reeds gesondheidsamptenare wat die geval ondersoek en voorberei vir ’n moontlike uitbraak,” sê dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streeksdirekteur vir Afrika.
“WGO-personeel werk saam met gesondheidsowerhede om enigiemand te identifiseer wat met die vrou in aanraking gekom het om hul gesondheid te monitor. Die WGO sal ook werk om te verseker dat behoorlike infeksievoorkoming en -beheermaatreëls in plek is, en dat behandeling beskikbaar gestel kan word vir diegene wat dit nodig het.”
Die land sal verder bewusmakingsveldtogte oor Ebola onder plaaslike gemeenskappe opskerp.
Ebola is die wêreld se dodelikste virus. Daar is geen behandeling vir die virus nie.
Die grootste Ebola-uitbraak tot nou toe was ‘n epidemie in Wes-Afrika van Desember 2013 tot Januarie 2016, met 28 646 gevalle en 11 323 sterftes.