Neem kennis: Die berig bevat inligting wat sommige lesers kan ontstel.
’n 38-jarige pa van Nelspruit, Mpumalanga, sal die volgende 22 jaar agter tralies deurbring, omdat hy sy 17-jarige biologiese dogter by Mahushu buite Hazyview in Maart 2019 verkrag het. Sy het later uitgevind dat sy swanger is met haar pa se kind.
Brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het bevestig dat die slagoffer na haar oupa en ouma se plek genooi is wie saam met haar biologiese pa gewoon het, onder die valse voorwendsel om ‘rituele’ uit te voer.
Met haar aankoms was haar pa nie tuis nie, maar haar ouma het hom gekontak en met sy aankoms het hy nooit iets vir die ‘rituele’ gebring nie. Die slagoffer het toe geëis om terug te gaan huis toe, aangesien dit reeds laat was. Hy het toe aangebied om haar huis toe te vergesel, omdat hy “baie goed geweet het dat hy ’n bose plan teen sy eie dogter georkestreer het.” Met die terugkeer huistoe het die slagoffer se pa langs die begrafplaas die slagoffer (sy dogter) met ’n vuurwapen gedreig en opdrag gegee om uit te trek, waarna hy haar verkrag het. Hy het haar verder gewaarsku om vir niemand van die beproewing te vertel nie.
’n Maand later (in April 2019) het die slagoffer uitgevind dat sy swanger is, maar selfs toe het sy nooit vir iemand vertel nie. In Augustus 2019 het sy uiteindelik haar stilte verbreek oor wat met haar oorgekom het op daardie verskriklike nag.
Die saak is toe onder die polisie se aandag gebring en ’n verkragtingsaak is geopen. Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) is aangewys om die saak te ondersoek. Hierdie deskundiges het die verdagte later op 30 Augustus 2019 in hegtenis geneem. Hy is toe dienooreenkomstig aangekla. Hy het in die hof verskyn waar borgtog suksesvol deur die staat teëgestaan is. Hy het skuldig gepleit op die aanklagte teen hom, weens die oorweldigende hoeveelheid bewyse teen hom.
Die slagoffer het ter verswaring van die vonnis getuig en die hof meegedeel dat sy teleurgesteld en bang is vir haar pa se optrede.
Die beskuldigde het gedurende die verhoor in aanhouding gebly, totdat hy op 11 Augustus 2022 by die Nelspruit-streekhof gevonnis is.
Dit is op hierdie stadium nie bekend wat met die baba geword het nie.
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, het die vonnis verwelkom.
Die 38-jarige pa se identiteit word weerhou om die identiteit van sy dogter te beskerm.