Brigadier Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het aan AfriNuus bevestig dat ’n mensejag deur die Oos-Kaapse polisie van stapel gestuur is na die gewapende roof van ’n polisiebeampte wat vanoggend om 01:00 in die Engcobo-area plaasgevind het.
Volgens polisie-inligting het die polisiebeampte op ’n klag gereageer van ’n persoon wat verkrag is. Terwyl hy teruggery het van die mediese fasiliteit waarheen hy die slagoffer geneem het, is hy deur ’n groep onbekende verdagtes aangerand. Met vuurwapens het die twee verdagtes hom uit die voertuig gepluk en toe in die polisievoertuig weggery.
Die lid het ongedeerd daarvan afgekom, waarna hy bystand van die polisiestasie ontbied het wat dadelik op die situasie gereageer het. Die polisievoertuig is later verlate in die nabygeleë woud bekend as Sigidi gevind.
SAPD-lede soek tans na die verdagtes in en om die plaaslike dorpe. ’n Saak van gewapende roof word ondersoek.
Nog niemand is in hierdie stadium in hegtenis geneem nie.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) doen ’n beroep op enigiemand wat moontlik inligting het oor waar die verdagtes is, om asseblief kontak te maak met die naaste polisiestasie of die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel.