Mzwandile Petros, die sekuriteitshoof by die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), het Vrydag in ’n verklaring bevestig dat sekuriteit van die OR Tambo-lughawe in Johannesburg ’n Suid-Afrikaanse vrou in haar laat 20’s vasgetrek het, toe sy met ’n saamgeperste steen kokaïen op ’n vliegtuig na Singapoer wou klim.
’n Verklaring deur Acsa lui:
“Donderdag om 12:30 het die lughawe se sekuriteitspan, wat hoogs opgelei is om verdagte en wisselvallige gedrag op te let, besluit om ’n passasier te nader wat op die punt was om ’n vlug na Singapoer te haal.
“Toe hulle hierdie verdagte gedrag opgemerk het, het die sekuriteitspan ’n private deursoeking ingevolge die regsprosedures aangevra. Tydens die soektog het sekuriteitspersoneel ’n steen ontdek wat kokaïen bevat.
“Ons het saam met ons sekuriteitspan ons sigbaarheid verhoog en sal voortgaan om ewekansige soektogte te doen waar ons gemene spel vermoed. Ek het dit die afgelope paar maande duidelik gemaak dat wetteloosheid by ons lughawens nie geduld sal word nie. Ek wil ook graag ons sekuriteitspan loof vir hierdie operasie.
“Om ons lughawens teen misdadigheid veilig te hou, is hoog op ons prioriteitslys, en ek is seker dat die veiligheid en sekuriteit van alle passasiers en kliënte wat lughawefasiliteite gebruik van uiterste belang is vir die hele sekuriteitspersoneel by Acsa.”
Petros sê dat alhoewel die gewig van die steen nog vasgestel moet word, is die verdagte aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) by die lughawe vir verdere ondersoek oorhandig.
AfriNuus het uitgereik na die SAPD vir meer inligting oor die misdaad.