Die saak teen ’n polisiebeampte wat na bewering ’n 17-jarige meisie by die Kei Mouth-polisiestasie op 6 Augustus 2022 verkrag het, is tot Vrydag 29 Augustus 2022 uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek.
Die verdagte is op Vrydag, 19 Augustus 2022, deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) in hegtenis geneem.
Daar word beweer dat die 17-jarige slagoffer ’n klaer was in ’n saak wat sy teen haar kêrel aanhangig gemaak het. Die verdagte het die slagoffer by haar huis gaan haal sodat sy by die polisiestasie ondervra kon word.
“Op pad na die polisiestasie het die verdagte glo ’n paar seksuele gunsies vir die slagoffer gevra, wat sy verwerp het,” sê Lizzy Suping, woordvoerder van Opod, in ’n verklaring.
By die polisiestasie het die verdagte die slagoffer na ’n kantoor geneem waar hy haar na bewering verkrag het. Daarna kon die slagoffer na die gemeenskapdienssentrum (GDS) hardloop om ’n klag in te dien.
Die 45-jarige verdagte was ’n speurder by die Kei Mouth-polisiestasie in die Oos-Kaap. Hy het intussen by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bedank.