Brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het in ’n verklaring gesê dat ’n aantal selfone en skootrekenaars glo op 3 Augustus 2022 by ’n skoolkoshuis in Witrivier gesteel is.
Daar word beweer dat sowat sewe verdagtes die koshuis bestorm en die leerders opdrag gegee het om uit te trek. Hulle is daarna deursoek waarna hul selfone en skootrekenaars gesteel is.
“Alle goedere is in die Toyota Avanza gelaai wat aan die eienaar van die koshuis behoort,” sê brig. Mohlala. “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en plaaslike sekuriteitsmaatskappye het op die voorval gereageer en met hul aankoms het die verdagtes ongelukkig reeds van die toneel gevlug en die Toyota Avanza as die wegkommotor gebruik.”
Die sekuriteitsgroepe het toe ’n soektog van stapel gestuur wat gelei het tot die herwinning van die leë voertuig wat by Spionkopweg buite Witrivier gevind is.
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, het die spanwerk tussen die polisie en die sekuriteitsmaatskappye toegejuig. Die Generaal het mense verder gewaarsku om nie gesteelde goedere te koop nie, aangesien hulle ook aangekla sal word vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Die polisie versoek enigiemand met inligting wat met die ondersoek kan help om die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te kontak.