Meer as R5 miljard se behuisingsprojekte in die Wes-Kaap is oor die afgelope vyf boekjare gestaak. Dit is onthul in ’n antwoord op ’n parlementêre vraag deur die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers.
“Hierdie projekte is hoofsaaklik gestaak as gevolg van ’n kombinasie van kriminele aktiwiteite, grondbesettings en moeilike gemeenskapsdinamika wat die samewerking van die gemeenskap benodig,” sê Matlhodi Maseko, DA-woordvoerder oor menslike nedersettings in die wetgewer. “Die vertraagde voorsiening van elektrisiteitsinfrastruktuur vanaf Eskom het ook ’n beduidende rol gespeel.”
Openbare infrastruktuurbehuisingsprojekte het toenemend kwesbaar geword vir geweld en misdadigheid soos onwettige grondbesettings, sowel as afpersers. “Hierdie kriminele elemente is vererger deur die nasionale regering se verklaring van die nasionale ramptoestand en daaropvolgende verbod op uitsettings twee jaar gelede.”
Die misdadigheid dra volgens die politieke party by tot die vertragings in die voltooiing van hierdie behuisingsprojekte en dra verder by tot die provinsie se behuisingsprojekte wat verder agteruitgaan.
Meer as 45 000 begunstigdes is geraak deur die staking van die 47 behuisingsontwikkelingsprojekte oor die afgelope vyf boekjare.
“Dit is duisende kwesbare Wes-Kapenaars wat nog langer sal moet wag om die waardigheid van huiseienaarskap te ken,” meen Maseko.
Matlhodi Maseko sê: “Om die misdadigheid te hanteer wat behuisingsontwikkelings in die Wes-Kaap en regoor die land verhoed, vereis ’n geheel-van-die-samelewing-benadering. Ek doen ’n beroep op gemeenskappe om saam met die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur en plaaslike regerings te werk om grondindringers en afpersings wat behuisingsprojekte bedreig, aan te meld. Dit is belangriker as ooit van tevore om saam met die provinsiale regering te werk en die kriminele gedrag te konfronteer wat die verskaffing van huise belemmer.
“Die agterstand in behuisingsprojekte in die Wes-Kaap kan aansienlik verminder word deur gemeenskaps- en regeringsamewerking. As die Voorsitter van die Staande Komitee vir Menslike Nedersettings, sal ek die Komitee betrek om hierdie behuisingsontwikkelings te besoek om samewerking tussen die regering en gemeenskappe te evalueer.”
27May2022W02-1