Die kitskosrestaurant KFC het Dinsdag in ’n verklaring bevestig dat dit ’n ondersoek van stapel gestuur het na ’n vals voedselinspekteur wat gratis kos by sy takke regoor Suid-Afrika aangevra het.
’n Verklaring lui:
“KFC het aangekondig dat hy ’n private ondersoek gaan loods om ’n beweerde vals voedselinspekteur op te spoor wat gratis kos by KFC-takke regoor Suid-Afrika aanvra. Mediaberigte van die beweerde vals KFC-gehalteversekeringsinspekteur het die eerste keer in 2019 opgeduik.
“Die voorvalle wat aanvanklik aangemeld is, was glo ’n urban legend. Die daaropvolgende sosiale media-dekking van die vals voedselinspekteur het gelei tot verdere stories van ander gehalteversekering-nabootsers.
“KFC het die private ondersoeker Beckett Mathunzi aangestel om die egtheid van die beweerde verslae vas te stel en, indien werklik, die identiteit van die vals voedselinspekteur vas te stel en hom op te spoor. Enige inligting kan gedeel word via KFC se 24-uur blitslyn by 0872 406 724.”