’n Mediese dokter in Kimberley, wat van verkragting beskuldig word, het amptelik aansoek om borg in die Kimberley-distrikshof gedoen.
Die verdagte word daarvan aangekla dat hy ’n 17-jarige pasiënt in sy spreekkamer verkrag het.
Daar word beweer dat die 17-jarige slagoffer op 15 Augustus 2022 na die beskuldigde dokter vir ’n mediese konsultasie gegaan het.
Daar word verder beweer dat die beskuldigde die klaagster tydens die mediese ondersoek verkrag het.
Die slagoffer het die spreekkamer verlaat en die volgende oggend (op 16 Augustus 2022) haar tannie oor die voorval ingelig, waarna ’n saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geopen is. Die beskuldigde is daarna in hegtenis geneem en van verkragting aangekla. Sy borgtogaansoek is tot Woensdag 24 Augustus 2022 uitgestel.
Voor die borgtogaansoek het die dokter ook ’n eerste hofverskyning in die Kimberley-distrikshof gemaak op ’n ander aanklag van seksuele aanranding.
Daar word beweer dat die beskuldigde ook op 20 April 2022 ’n 25-jarige pasiënt tydens ’n mediese ondersoek seksueel aangerand het.
Die saak is tot Vrydag 26 Augustus 2022 vir ’n moontlike borgtogaansoek uitgestel.
Ondersoeke deur die SAPD duur in beide sake voort.
Bron: Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Noord-Kaap.