“Inwoners in Gauteng betaal steeds die salaris van nege amptenare van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling en gesondheid, sewe maande ná hul skorsing,” sê Alan Fuchs, DA-wetgewerlid vir infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur.
Die amptenare is geskors weens die ‘irrasionele besluit om meer as ’n halfmiljard rand aan die opknapping van die Anglo Gold Ashanti-hospitaal (wat steeds leeg is) te bestee.’
Baie maande later was daar geen vordering in die saak teen hierdie amptenare wat tans tuis is nie.
“Dit is net nog ’n voorbeeld van die administratiewe onbekwaamheid van die regering en bevraagteken of ’n saak hoegenaamd bestaan,” voeg Fuchs by.
Die feit dat hierdie hospitaal nie in die stryd teen Covid-19 gebruik is nie en vandag verlate staan, voeg volgens die party gewig by tot die argument dat diegene wat vir hierdie besluit verantwoordelik is, ondersoek moet word vir die vermorsing van so ’n groot hoeveelheid geld.
Die besluit om hierdie hospitaal op te knap is geneem deur die Covid-19-bevelsraad, met premier David Makhura en voormalige LUR Bandile Masuku as die mees senior politieke deelnemers. Premier Makhura bly in sy amp, terwyl Masuku as die LUR vir Gesondheid verwyder is.
“Geregtigheid word vertraag en ontken, terwyl die amptenare salarisse betaal word om by die huis te sit,” sê Fuchs. Volgens die party doen die “kruisvaarders teen korrupsie” min om te verseker dat die saak bespoedig word.
“Die DA sal aanhou veg vir hierdie ondersoek om voort te gaan aangesien die onbevoegdheid en vermorsing wat ons in hierdie provinsie sien tot ’n einde moet kom.”
