Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor gesondheid, het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat die minister van gesondheid, Joe Phaahla, ná ’n versoek van die Vryheidsfront Plus eers voor die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid moet verskyn, voordat hy die konsep-regulasies wat die ramptoestand moet vervang, publiseer.
Intussen is die proses nog aan die gang om die publiek se kommentaar en insette hieroor deur te werk.
“Die VF Plus se standpunt is dat die konsep-regulasies eerder onttrek en in geheel geskrap moet word,” sê van Staden.
Die regulasies is volgens die party ’n duidelike poging om die tydelike magte wat ʼn ramptoestand bied, permanent te maak en sluit in die toesig oor en beheer van aanmeldbare siektes, openbare gesondheidsmaatreëls op grense en omgewingsgesondheid.
“Die voorgestelde regulasies word gesien as ’n voortgesette poging tot magsmisbruik deur die ANC-regering ná die uitgebreide magte en vergrype van die Covid-19-ramptoestand,” sê van Staden.
Wat die openbare deelname-proses aanbetref, sal die VF Plus daarop aandring om te weet hoeveel insette belanghebbendes oor die regulasies gelewer het.
“Daar moet ook duidelik aangedui word hoeveel belanghebbendes vir of teen die regulasies is,” meen die VF Plus. “Die party sal toesien dat die insette van die publiek en alle ander belanghebbendes wel die nodige gewig dra met die finale besluit oor die regulasies.”
Indien dit bloot deurgestoomroller word, sou die proses van openbare deelname asook die parlementêre proses volgens die party ’n blote bedrogspul wees.
“Die regering se magsvergrype mag nie langer geduld word nie.”