Dr. Isak Fritz, DA-woordvoerder van gesondheid, het in ’n verklaring onthul dat petrolkaarte wat by vulstasies afgekeur word, ambulans- en pasiëntvervoerdienste in dele van die Noord-Kaap heeltemal tot stilstand geruk het.
’n Hele vloot mediese nooddiensvoertuie staan sedert Maandagaand by die Dr. Harry Surtie-hospitaal in Upington. Voertuie kan glo nie hul tenks met brandstof volmaak nie, weens die wanbetaling van diensverskaffers deur die provinsiale gesondheidsdepartement.
’n Familielid van ’n pasiënt in Topline het glo gekla dat hy vanoggend vervoer moes reël na die Dr. Harry Surtie-hospitaal in Upington, vir sy baie siek pa, weens die onbeskikbaarheid van ambulanse.
Klagtes oor die gesondheidsdepartement se petrolkaartkwessie doen ook die rondtes op sosiale media.
’n Pasiënt wat vroeër vandeesweek van Namakwaland na Kimberley gereis het vir behandeling, het aangedui dat die pasiëntvervoerder omgedraai het nadat die petrolkaart by ’n Pofadder-vulstasie afgekeur was.
“Pasiënte wie se familielede nie ingelig is dat hulle na Springbok sou terugkeer nie, is in die koue voor die hospitaal verlaat om hul eie pad huis toe te maak,” sê dr. Isak Fritz. “Baie van hulle was beide siek én bejaard.”

Weens die situasie, wat glo ten minste die Namakwa- en ZFM-distrikte raak, moes ’n aantal pasiënte hul langverwagte afsprake by spesialisdokters, of selfs behandelingsessies vir ernstige siektes, mis. Hulle is nou bekommerd oor hoe lank dit sal neem om hul gemiste afsprake te laat herskeduleer.
“Daar sal ook nie op noodgevalle gereageer word nie, as as gevolg van leë petroltenks.”
Volgens die politieke party is dit nie die eerste keer dat afgekeurde petrolkaarte mediese nooddiens in die provinsie op sy knieë bring nie.
Die party sal ’n verduideliking van Maruping Lekwene, LUR vir Gesondheid, eis, en ook die gesondheidsdepartement se versuim om die verskaffing van volgehoue gesondheidsorgdienste te verseker, aan die Premier, dr. Zamani Saul, rapporteer om te verseker dat iemand verantwoordelikheid neem vir “hierdie uiterste mislukking.”
