Ondersteuners en lede van die Oekraïense Vereniging van Suid-Afrika (UAZA) het Woensdag ’n vreedsame betoging voor die konsulaat vir die Russiese Federasie in Kaapstad gehou.
Vandag vier die Oekraïne sy 31ste onafhanklikheidsherdenking. Dit is ook ses maande sedert die Russiese volskaalse inval in die Oekraïne, waarin minstens 376 kinders sedert Februarie 2022 in die Oekraïne deur Russiese magte gedood is, terwyl meer as 700 gewond is.





UAZA het verder 376 pare kinderskoene voor die Russiese konsulaat geplaas om daardie gesinne te herdenk wie se lewens vir altyd verander het en om die aandag te vestig op die omvang van die moorde op burgerlikes in die Oekraïne en op die wêreldwye humanitêre krisis wat veroorsaak is deur die Russiese inval.
“Agt jaar gelede, in 2014, het Rusland die Ooste van die Oekraïne binnegeval en die Krim-skiereiland onwettig beset,” sê Anastasia Korpeso, UAZA Sekretaris. “Hierdie oorlog het Oekraïne meer as 14 000 lewens, meer as 30 000 gewondes en 1,5 miljoen ontheemdes gekos.”
Volgens UAZA het Rusland daarna ’n disinformasie-veldtog bemeester “wat samelewingsverdelings dryf en openlik gelieg het oor hul militêre betrokkenheid.”
Op 24 Februarie 2022 het Poetin die Oekraïne binnegeval, en 12 miljoen Oekraïners het vlugtelinge geword, terwyl 30 miljoen daagliks gely het onder lugaanvalle en die daaglikse geweld van lewe in die oorlog.
“Oekraïne lyk ver weg van Suid-Afrika, maar die Russiese inval het verhoogde pryse vir petrol en kookolie, tekorte aan graan en ander kosse, en groeiende finansiële onstabiliteit veroorsaak,” sê Korpeso. “Rusland moet stop. Dit sal lewens in Suid-Afrika en in die Oekraïne red.”
“In ’n wêreld wat steeds armoede beveg en klimaatsverandering in die gesig staar, vind president Wladimir Poetin die plek vir “historiese aansprake” en bombardeer vreedsame burgers om sy koloniale oorheersing oor Oekraïne te bewys.”
Korpeso het ’n beroep op alle Suid-Afrikaanse burgers gedoen om:
- Solidariteit te betuig met die Oekraïne en uit te praat teen die Russiese inval in die Oekraïne wat bydra tot die armoede en geweld in Suid-Afrika;
- Op te hou om besigheid met Rusland te doen en om op te hou om by te dra tot die moorde op burgerlikes; en
- Die Suid-Afrikaanse regering te dwing om onmiddellik die Russiese inval te veroordeel en die visumvrye regime vir Russiese burgers te kanselleer.
Alle skoene sal aan ’n liefdadigheidsorganisasie geskenk word.
