Studente van Simonsberg-manskoshuis in Stellenbosch het besluit om as ’n gemeenskap saam te trek om bewustheid te kweek en die impak wat geestesgesondheid op studente en mense het, te erken.
Dit volg in die nasleep van Kyran “Ky” Rowe, ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat vroeër vandeesmaand dood in dié koshuis gevind is, nadat hy na bewering sy eie lewe geneem het.
“Ons Simonsberg-manne het onlangs besluit om as ’n gemeenskap saam te trek om bewustheid te kweek en die impak wat geestesgesondheid op ons as studente en as mense het, te erken,” lui ’n verklaring deur die manskoshuis. “Om in die koue water te gaan swem was moeilik, maar om die glimlagte te sien en die klagtes te hoor van hoe koud die water is, het ’n warm gevoel in ons die binneste veroorsaak.”
“Gedurende hierdie moeilike tyd het ons vertroosting in gemeenskap gevind en vind hoop daarin om eerlik met mekaar te wees. Ons het nie al die antwoorde nie en ons sal nooit. Ons hoop om die gesprekke en stories te kan voortsit, terwyl ons die wêreld waarin ons leef navigeer en hopelik ’n lig as ’n gemeenskap skyn deur ons stories te vertel.”