Sipho Stuurman, woordvoerder van Randall Williams, DA-burgemeester van Tshwane, sê dat die Tshwane-metro beoog om te verseker dat sy uitstaande kragrekening aan Eskom betaal word.
Eskom het gister gesê dat die kragvoorsiener dit oorweeg om die elektrisiteitstoevoer van die Tshwane-metro te ontkoppel in ’n poging om die uitstaande betaling van tot R1,6 miljard wat die stad verskuldig is, te verseker.
“Die Tshwane-metro het kennis geneem van die Eskom-mediaverklaring waarin hulle dreig om die voorsiening van elektrisiteit aan die munisipaliteit te ontkoppel weens die vertraagde betaling van ons lopende rekening.
“Ons is bewus van die uitstaande kragrekening van R1,6 miljard en ons beoog om hierdie bedrag te betaal. Ons finansiële span het Eskom konsekwent oor ’n betalingsplan betrek. Ons verstaan ons verantwoordelikheid om ons rekening te betaal,” sê Stuurman.
Die Tshwane-metro het egter die volgende feite uitgelig:
- Die verskuldigde bedrag is slegs 4 dae agterstallig.
- Die uitstaande bedrag is slegs vir Julie-maand en alle vorige skuld is betaal.
- Eskom se betalingsdatum is oor 15 dae (teen 16 Augustus). Tshwane-fakture vir Julie is om en by 21 Augustus betaalbaar.
- Gemiddeld betaal inwoners die metro in ’n siklus van 60 dae vir dienste wat verbruik word, terwyl Eskom betaling oor 15 dae verwag en die metro geen kontantreserwes het om die gaping met betaling uit sy koffers te kry nie. Daarom lei dit tot die huidige situasie.
- Die metro sê dit het Eskom deurlopend oor sy betalingsplanne ingelig en sal voortgaan om dit te doen.
“Die Tshwane-metro bly daartoe verbind om wat ons skuld te betaal en om te verseker dat ons ons Eskom-rekeninge betaal.
“Dit is hoekom ons met ons ’n aggressiewe inkomste-invorderingsveldtog begin het om te verseker dat ons genoeg inkomste insamel om ons krediteure soos Eskom te betaal.