AfriNuus het vroeër berig dat Suid-Afrika se inflasiekoers tot ’n skokkende 13 jaar-hoogtepunt gespring het.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) het bevestig dat inflasie in Julie tot 7,8% gestyg het, wat byna 2% bo die boonste perk van die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6 is.
Die styging is ’n weerspieëling van ’n aansienlik verswakte ekonomiese vooruitsig en verdere verhogings in rentekoerse.
In reaksie op die krisis gaan die DA binnekort ’n lewenkoste-veldtog van stapel stuur wat sal uiteensit hoe die politieke party beplan om druk op huishoudings te verlig.
“Suid-Afrika het onlangs versnelde stygings in voedsel- en brandstofpryse ervaar, tesame met stygende inflasiekoerse, wat verwoestend vir huishoudings is,” sê dr. Dion George, DA-woordvoerder oor finansies. “Vervoer van goedere en dienste het ’n jaarlikse prysstyging van 25% getoon, met brandstofpryse wat 56,2% gestyg het vergeleke met Julie 2021.”
Suid-Afrika het ook die afgelope paar maande ’n toename in loonverwante onderhandelinge en stakings gesien.
“Vakbonde in die burgerlike samelewing daag regerings en nywerhede uit oor inkrementele loonverhogings,” sê dr. George. “Die gevaar is nou dat huidige voortgesette loononderhandelinge bo-inflasie ’n verdere prysspiraal tot gevolg het, wat Suid-Afrikaners se besparings sal uitwis.”
Verdere komplisering van sake is Suid-Afrika se nou hoogs waarskynlike gryslys deur die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF) wat inflasiedruk sal vererger. Indien Suid-Afrika op die gryslys geplaas word, sal die land op die lys beland van ander lande wat nie geldwassery en die finansiering van toerrisme bekamp nie.
“Die land het nie sulke inflasionêre druk ervaar sedert die jaarlikse koers van 8% wat in Mei 2009 geregistreer is nie, toe die ekonomie met valutadepresiasie gesukkel het ná die wêreldwye finansiële krisis,” sê dr. George. “Hierdie keer het die krisis aan die voete van die regering gelê, wat misluk het om die nodige fiskale maatreëls in te stel wat die uitwerking op verbruikers sou versag het.”
Volgens die party het die regering geen duidelike plan om die voortslepende krisis aan te spreek nie en het gewys dat hy geen idee het van die gevolge van sy ekonomiese beleid wat die land se ekonomie effektief op sy knieë gebring het en meer Suid-Afrikaners dieper in armoede gedwing het nie.
Suid-Afrikaners neem vandag deel aan die landwye nasionale stilstand-veldtog in ’n poging om pryse van basiese produkte en dienste te verlaag.