Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe, het die lede van die Traffic Intervention Unit (TIU) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geloof, nadat hulle op ongewenste en gevaarlike wapens van leerders beslag gelê het tydens ’n deursoek- en beslagleggingsoperasie wat uitgevoer is by drie hoërskole in Barberton vroeër vandag.

Die items waarop beslag gelê is, sluit in verskeie bokse vuurhoutjies, saamgeperste dagga, messe, drank en sigarette.
Van die leerders wat met dagga gevang is, het inligting oor hul dwelmverskaffer bekend gemaak.
Dit het die span daarna na ’n nabygeleë motorwassery gelei waar beslag gelê is op twee 20 liter-emmers met dagga. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.

Hierdie klopjagte is deel van die breër skoolveiligheidstrategie van die regering.

“Dit is diep teleurstellend dat ons ten spyte van al die programme en bewusmakingsveldtogte wat die departement met belanghebbendes in skole voer, steeds hierdie vlakke van misdadigheid in sommige van ons skole vind. Ons programme sal voortgaan om by skole regoor die provinsie uitgerol te word. Ons bly meedoënloos in ons pogings om ons skole veiliger te maak vir effektiewe leer en onderrig,” sê die LUR.
Hy blameer ook diegene wat die leerders van dwelms voorsien en sê dat ouers moet help om diegene uit te wys wat hul kinders korrupteer.
“Hierdie kinders is ons toekoms, en ons moet dus nie ons land se toekoms oorgee aan hartelose en gewetenlose mense wat nie omgee vir ons land se toekoms nie,” voeg Shongwe by.
Hy het ook by leerders en jongmense gepleit om meer gefokus te raak op hul studies en positiewe leefstyle.

