Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Kaapse metroraad, het Woensdag die ontplooiing van 100 beamptes na Kaapstad se middestad amptelik verwelkom. Die beamptes is sedert 1 Julie aktief aan diens.
“Die middestad is die hartklop van die stad se ekonomie, en elke dag stroom tienduisende inwoners hierdie spilpunt uit elke hoek van die stad in om te kom werk, handel te dryf of skole en kolleges by te woon,” sê Hill-Lewis. “Dit is vir ons belangrik dat al hierdie Kapenaars hul dag met ‘n gevoel van veiligheid kan aandurf.”
“Ons wil hê die middestad moet ’n plek wees waar almal veilig kan voel om na en van die bushalte of die treinstasie te stap, en waar vroue veilig voel om restaurante en kroeë in die nag te besoek. Die toename in misdaad in die middestad het mense kwesbaar laat voel. Dit is hoekom ons die besluit geneem het om te begroot vir ’n ongekende wetstoepassingsontplooiing van 100 nuwe beamptes na die middestad alleenlik. Hierdie beamptes het hul opleiding ondergaan en hulle is toegerus en nou aan diens. Die verskil wat hulle maak, selfs in die eerste paar weke van hul ontplooiing, is deur baie gevoel.”
Die ontplooiing van ’n bykomende 100 metropolisiebeamptes in die middestad sal die teenwoordigheid van polisiëring oor ’n 24-uur-periode verskaf.
Dit kom dae ná die ontplooiing van 100 nuwe Leap-reaksie-beamptes in misdaadbrandpunte rondom Kaapstad.
Die jongste misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van 2022 het ’n daling van 8,2% in moorde in misdaadbrandpunte regoor die stad getoon.

