Solly Malatsi, DA-woordvoerder, sê dat vandag se uitspraak oor ’n liedjie wat vra vir die moord op boere, wys dat die EFF daarop ingestel is om die vlamme van rasseverdeling in ons land aan te hits.
“Terwyl die DA die hof se uitspraak respekteer, glo ons dat die volgehoue poging van die EFF om die onverdedigbare in hierdie saak te verdedig ’n uiters gevaarlike presedent vir ons jong demokrasie skep,” sê Malatsi.
Volgens die politieke party is daar geen plek in ons demokrasie om die doodmaak van enige spesifieke persone voor te hou nie, en om dit deur middel van sang of ander maniere te vra is onaanvaarbaar.
“Die DA doen ’n beroep op die EFF en ander partye om hulle daarvan te weerhou om rasse-opruiende uitsprake te maak,” sê Malatsi. “Suid-Afrikaners wat ons verenigde, grondwetlike en regte-gebaseerde demokrasie waardeer, moet verenig en hierdie slenter van die EFF om Suid-Afrika te verdeel, verwerp.”
“Rasverdelende en opruiende uitsprake soos die lirieke van daardie lied staan in die pad van ons land se strewe na versoening,” meen Malatsi. “Die wonde wat baie Suid-Afrikaners toegedien is as ’n direkte gevolg van ons geskiedenis van rasseverdeling kan slegs genees word deur gesamentlike pogings om die regte van alle Suid-Afrikaners te beskerm.”
Volgens die party moet niemand toegelaat word om ’n lied te sing wat vra vir die dood van enige ander minderhede nie, en dus moet dieselfde vir hierdie lied geld.
“Geen persoon moet ooit ’n lied sing om te vra vir die doodmaak van godsdienstige gelowiges, LGBTQI-minderheidsgemeenskappe, ander rasse, en diegene wat met gestremdhede leef nie,” sê Malatsi. “Die gedagte van so ’n lied is heeltemal afskuwelik, en net so is hierdie lied ook.”
Volgens die DA is die EFF se ‘voortdurende verdeling van die samelewing’ in lyn met hul aankondiging vandeesweek dat hulle ná die verkiesing van 2024 met die ANC sal saamwerk.
“ ’n EFF-ANC-koalisie sal doelbewuste rasseverdelings verskans, en sal ’n koalisieregering lewer wat dink die aanhitsing van geweld teen minderhede is in orde – en dit moet gestop word.”
“Die rasseverdeling wat deur die EFF gesaai word, moet teengestaan word,” sê Malatsi. “Die DA verbind hom om dit elke tree van die pad te beveg. Die DA staan op vir elke Suid-Afrikaner, vir eenheid, vir samehorigheid en vir gelykheid, en daarom kan die DA nooit saam met die EFF, op enige regeringsvlak, regeer nie.”
Volgens die DA kan Suid-Afrika as ’n nasie net voorspoedig wees en sukses behaal as almal saamkom en saamwerk vir ’n beter toekoms.
Die DA het ’n beroep op die EFF gedoen om dadelik op te hou om dié “verdelende lied” te sing.