Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het ’n beroep op alle motoriste gedoen wat tussen Oktober 2021 en Desember 2021 aansoek om ’n nuwe bestuurslisensie of die hernuwing van hul lisensiekaarte gedoen het, om dit by hul bestuurslisensie-toetssentrum af te haal.
“RTMC-sentrums is 7 dae per week vanaf 07:00 tot 21:00 oop,” lui ’n verklaring deur RTMC. “Aansoekers word aangemoedig om voordeel te trek uit korter toue en op Vrydae, Saterdae of Sondae te kom.”
Aansoekers word gewaarsku dat die Nasionale Padverkeerswet lisensiesentrums magtig om weg te doen met ’n onopgeëiste bestuurslisensiekaart 120 dae nadat mense in kennis gestel is om die kaarte af te haal.
Sodra daar met ’n onopgeëiste rybewys weggedoen is, sal die aansoeker verplig word om weer aansoek te doen en die koste te betaal.
“Motoriste word aangeraai om hierdie scenario te vermy en hul kaarte af te haal terwyl daar genoeg tyd is,” voeg RTMC by.
Volgens RTMC is die agterstand in die druk van bestuurslisensiekaarte uitgeklaar en het die omkeertyd vir die aflewering van kaarte geweldig verbeter. Aansoekers van nuwe bestuurslisensiekaarte kan nou verwag om hul kaarte binne twee weke na aansoek te ontvang.
Voordat hulle lisensiesentrums nader vir afhaal, kan motoriste die status van hul lisensies en professionele bestuurspermit (PrBP) nagaan soos hieronder verduidelik:
Daar is twee maniere waarop jy die status van jou bestuurslisensiekaart kan nagaan:
Opsie 1: SMS jou ID-nommer na 33214 en verwag een van die volgende uitkomste:
- Aansoek ontvang (Application Received) – wat beteken dat die aansoek van die toetssentrum ontvang is en nog nie verwerk is nie.
- Produksiewaglys (Production Queue) – wat beteken dat die verwerking en vervaardiging van jou kaart in proses is.
- Verwerk en gereed vir afhaal (Produced and Ready for Collection) – wat beteken dat die kaart geproduseer is en binne 14 dae gereed sal wees vir afhaal.
- Probleemkaart (Problem Card) – wat beteken dat daar ’n probleem met die vervaardiging van jou kaart is, en jy moet terugkeer na die toetssentrum.
- Gereed vir afhaal (Ready for Collection) – wat beteken dat jy jou kaart by die toetssentrum kan afhaal.
Opsie 2: Besoek online.natis.gov.za en
- Skep ’n rekening deur jou telefoon-, e-pos- of selfoonnommer te gebruik, asook jou ID-nommer. Kies ’n gebruikersnaam wat jy sal onthou en ’n wagwoord.
- Nadat jy jou rekening geskep het, kan jy met jou gebruikersnaam en wagwoord op die webtuiste aanmeld.
- Klik op die dashboard en kontroleer die status van jou aansoek.
Hierdie diens is gratis.
Om die aansoekproses van jou professionele bestuurspermit (PrBP) na te gaan, SMS jou ID-nommer na 44220.