Bea Campbell-Cloete, ’n DA-raadslid van die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit in die Vrystaat, het in ’n verklaring bevestig dat dit onder die politieke party se aandag gebring is dat ’n dissiplinêre verhoor vandag gehou sal word oor ’n munisipale werknemer binne die afvalbestuursafdeling van die Maluti-a-Phofung Plaaslike Munisipaliteit (MAP) wat al vir 176 dae sonder verlof afwesig van die werk is.
“Die DA sal antwoorde van MAP eis oor die rede waarom hierdie werknemer ’n volle salaris betaal is ondanks sy afwesigheid van die werk vir al die tyd,” sê Campbell-Cloete.
Die Munisipaliteit moet ook antwoorde verskaf oor hoekom dit drie jaar geneem het om dissiplinêre prosesse teen die werknemer te begin, na aanleiding van talle versoeke en klagtes van toesighouers en kollegas.
Inligting wat deur die DA ontvang is, dui daarop dat daar gedurende die afgelope drie jaar talle klagtes deur die bestuur sowel as kollegas teen die werknemer gerig is, maar dat geen dissiplinêre stappe deur die munisipaliteit geneem is nie.
Medewerkers is ook aan intimidasie en dreigemente onderwerp wanneer hulle die kwessie met die werknemer aanspreek.
In Februarie 2022 is nog ’n versoek by die Munisipale Bestuurder, Futhuli Mothamaha, geopper om die nodige stappe teen die werknemer te neem aangesien hy geweier het om enige skriftelike waarskuwings te onderteken.
“Alhoewel die DA die feit verwelkom dat dissiplinêre stappe teen die werknemer sal begin, sal die party vrae by die Munisipaliteit opper oor die redes waarom dit drie jaar geneem het om dissiplinêre stappe teen die werknemer te neem. Verder, wie sal verantwoordelik gehou word vir die voortgesette betaling van die salaris van die werknemer?”
Die party sê dit is onaanvaarbaar dat die publiek die rekening moet betaal vir werknemers wat nie werk nie, en die party bly daartoe verbind om te verseker dat hierdie werknemers, sowel as die Munisipaliteit, aanspreeklik gehou word vir ’n ‘gebrek aan gevolgbestuur.’
“Die DA sal ook die gemeenskap op hoogte hou van die uitslag van die dissiplinêre verhoor,” sluit Campbell-Cloete af.