Philemon Letwaba, die Nasionale Loterykommissie (NLC) se bedryfshoof, het vandag sy bedanking ingedien. Die bedanking kom enkele weke voor hy ’n dissiplinêre verhoor in die gesig moes staar.
“Daar moet kennis geneem word dat die NLC se direksie nog nie sy bedanking aanvaar het nie,” sê Mat Cuthbert, ‘n DA-woordvoerder oor handelskwessies. “Daar is ’n algemene siening dat dit is omdat hulle die dissiplinêre proses teen hom wil voltooi voordat hulle voortgaan om hom af te dank.”
Die DA sê dit sal nie gekant wees teen hierdie optrede as die direksie besluit om dit te doen nie, “solank hulle in besit is van die nodige bewyse om hierdie saak af te handel.”
Volgens publikasie GroundUp het Letwaba na bewering ’n beduidende rol gespeel in die kaping van die Lotery-kommissie en ook na bewering voordeel getrek uit ten minste R45 miljoen deur verskeie entiteite wat aan sy familie gekoppel is.
Hierdie fondse is na bewering gebruik om opgraderings aan sy persoonlike huis te finansier wat ’n dek, boumateriaal, sekuriteitstelsels, tuinbouwerk en binnenshuise dekor insluit.
“Die DA het deurgaans vir die kwesbares, die siekes en gemarginaliseerdes geveg wat deur die NLC uit behoorlik verdiende befondsing bedrieg is,” sê Cuthbert. “Ons sal nie rus totdat elkeen van daardie individue wat verantwoordelik is vir die plundering op grootskaal by die NLC, agter tralies geplaas is nie.”
