Brigadier Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het in ’n verklaring bevestig dat die ontbinde liggaam van ’n onbekende man Woensdag om 10:00 in ’n Mpumalanga-rivier gevind is, terwyl sy hande agter sy rug vasgebind was.
Die man se liggaam is by die Mgwenyarivier naby Karino in Nelspruit opgespoor.
Volgens die polisieverslag het sommige lede van die gemeenskap op die lyk by die rivier afgekom en die polisie in Nelspruit gekontak. Met hul aankoms het die SAPD-lede ontdek dat die liggaam in ’n ontbinde stadium was. Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat dit ’n lyk was van ’n man wie se hande met ’n tou agter sy rug vasgebind was, wat dood bo-op die rots gelê het.
“Vir nou is ’n geregtelike doodsondersoek geopen met ’n sterk moontlikheid om dit na moord te verander,” sê brig. Mohlala. “Sy identiteit is in dié stadium onbekend.”
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, het ’n beroep op lede van die publiek gedoen om die polisie met enige inligting rakende hierdie voorval by te staan.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat met hul ondersoek kan help om die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te skakel.